Tamlyn Wessels het die musiekbedryf soos ‘n storm getref met haar treffers “Klein Bietjie” en “Lui Voete”. Nou is sy gereed om die prentjie nôg meer kleurvol te skilder met haar nuwe enkelsnit “Mooier As Mens” wat nou beskikbaar is!
Tamlyn het onlangs ‘n video op TikTok gedeel waar sy ‘n deel van hierdie liedjie akoesties gesing het, wat binne ure behoorlik vlam gevat het tussen haar meer as 100 000 volgelinge. Daar word altyd deur mans gesing hoe mooi ‘n vrou is, maar nou draai Tamlyn die kaarte om met hierdie nuwe enkelsnit, waar sy sing oor hoe mooi ‘n man is.
Een van Tamlyn se vele talente en passies waarvan jy dalk ook nie geweet het nie is dat sy die pragtigste prente kan skilder – iets wat ook in die musiekvideo van “Mooier As Mens” gesien kan word.
“Mooier As Mens” is geskryf (of sal ons sê geskilder) deur Tamlyn self en Emil Paul, en mooi vasgevang deur Hugo Ludik van Muse Studios, wat dié liedjie ook vervaardig het.
“Want jy’s mooier as mens vir my, al weet jy, jy’t al klaar my hart gekry, sal ek jou nog verseker. Jy sal vir ewig mooier as mens vir my bly…”, sing Tamlyn in die koor.
Beleef die musiek-skildery-enkelsnit van “Mooier As Mens” wat nou beskikbaar is op alle digitale platforms.