Na sy treffers “Meisie Wat Kan Vasdans” en “Annabel” is ons gunsteling Vrystaatse kunstenaar, Wentzel, gereed om sy nuwe enkelsnit “Help ‘n Bietjie” regoor die land te neem.
Het jy al gesukkel om ‘n meisie te vra om te trou, of om met haar te dans? Wel, hierdie nuwe uitreiking van Wentzel kan jou dalk help.
Soos die koor sing, “Oh, help ‘n bietjie, Help ‘n bietjie, Help ‘n bietjie daar, Somer kom al nader, Hy sal definitief moet vra,” gaan dit jou net genoeg moed gee om haar te vra.
“Ek het hierdie liedjie geskryf uit my eie ervarings, en ek het persoonlike waarnemings gebruik om die storie te vertel. Ek dink baie mense sal hulself daarin kan herken, of jy nou die een is wat aanmoediging nodig het, of die een is wat help. Dit gaan nie net oor liefde nie, maar ook oor mense wat daar is vir mekaar en mekaar bietjie aanmoedig, en oor die krag van vriendskap,” vertel Wentzel.
Hierdie kreet “Help ‘n bietjie, help ‘n bietjie, help ‘n bietjie daar” is ook bekend by troues en sportgeleenthede om deelnemers aan te moedig na die wenstreep. Daarom sal hierdie liedjie beslis kliphard saam gesing word om lekker gees op te wek.
As jy dalk bietjie hulp nodig het, gaan hierdie nuwe enkelsnit die regte medisyne wees.