Christia Visser en Armand Aucamp het baie vinnig in Suid-Afrikaners se harte geklim as gunsteling-akteurs in onder andere “Ballade vir ‘n Enkeling” en “Die Boekklub”. Nou het dié twee besluit om saam ‘n enkelsnit op te neem, “Sal Jy Optel?”.
“Sal Jy Optel?” gaan oor ‘n verhouding wat besig is om sy einde te bereik. Dit is daardie laaste geveg in jou voor jy uiteindelik die moed opbou om jouself te kies. Maar, daar is altyd nogsteeds so baie dinge wat jy wens jy kon sê.
“Armand is altyd ‘n fees! Hierdie is natuurlik Armand se eerste keer wat hy ‘n liedjie opneem. Ek kon sien hy was so bietjie op sy senuwees. Maar met sy stem, emosionele diepte, gewilligheid om aan te pas en ongelooflike vertroue in die proses het hy my hoendervleis gegee. Ek sal enige dag saam met Armand werk”, vertel Christia oor die avontuur.
Dié liedjie is vervaardig deur Dirk van Niekerk van Noted Music, wat ook ander treffers van Christia soos “17 Shots” en “Die Deur” vervaardig het. Met hierdie unieke duet saam met Armand kan aanhangers ook ‘n ander tipe klank verwag as waaraan hulle gewoond is van Christia.
“Ek en Christia ken mekaar nou al 10 jaar en ons het al soveel keer saam gewerk as akteurs op die verhoog, TV en films. Om saam met haar in studio te kon werk was ongelooflik en so maklik. Ek het ‘n kant van haar gesien wat ek nie noodwendig geken het nie – haar briljante musiek-talent!”, vertel Armand.
Christia en Armand deel ook dat hulle nie kan wag om te hoor wat hulle aanhangers van beide die film- en musiekbedryf dink van dié liedjie nie. Hierdie aanhangers kan ook daarna uitsien om dié twee weer op die skerm te sien in die pragtige musiekvideo wat hierdie vrystelling ook vergesel.