BOER SOEK ’N VROU SE RENÉ VERLAAT REËN – VERWELKOM NOLENE!

Beter en Beter

Positiewe hantering van veranderinge in díe jong pop-duo se groepslede word met deernis en volwassenheid hanteer. Sterkte René! Hello Nolene!

Reën het ontstaan toe Richann en René besef hulle het albei ’n liefde vir musiek maak. Die lugtyd op ‘Boer soek ’n vrou’ het natuurlik die sukses gesteun, maar die aansteeklike innigheid van hulle liedjies het die harde dra-werk gedoen. Hulle eerste enkelsnit ‘VRYSTAAT VLAKTES’ het Goud behaal, asook 1.8M views op Youtube. Indrukwekkend volgens enige maatstaf vir ’n debuut vrystelling.

“Die sukses was oorweldigend en het my lewe omver gegooi, op ‘n positiewe manier” verduidelik René by ’n tele-perskonferensie waar sy die eerste keer vir Nolene ontmoet. “Ek voel so bietjie skuldig, want dit is so ‘n groot ding wat ek nooit voorsien het nie. Ongelukkig was ek net nie in ‘n posisie om my lewe te stop en die musiek op so skaal aan te pak nie,” erken René. Wat min mense miskien weet is dat René alklaar ’n opwindende loopbaan het as politieke analis.

“Tydens die hele Covid-drama het ons nooit opgetree nie.” Met dinge wat nou skynbaar bietjie begin kalmeer het die druk-realiteit van moontlike toerlewe in gesink. Musiek sal altyd deel wees van my lewe op ’n manier. Never say never. Ek love dit om te sing. Ek dink dis deel van my selfverwesenliking. Ek weet hierdie was ’n eens-in-’n-leeftyd geleentheid, maar ek moes ’n keuse neem tussen my loopbaan in die politieke wetenskap en my lewe in Reën. Dis net onmoontlik om te balanseer.”

Die besluit was nie maklik nie. René wou natuurlik niemand in die verleentheid laat nie, maar gelukkig het gesoute vervaardiger Murray Lubbe, wat help met die musiek skryf en opneem, toevallig tydens die inperkingsperiode kontak gemaak met ’n jong verskietende ster, Nolene. Wie jy dalk sal herken van ’n ander TV program af?

Sy vertel: “Ek het ’n baie musikale familie en ons sing maar nog altyd. Op skool was ek in kore en het aan produksies deel geneem. Ek het Musikale Produksie studeer deur Trinity London College en in 2020 deel geneem aan ‘Maak My Famous’. Dit het my laat besef dat hierdie is wat ek wil doen.”  Murray het vir Nolene ontdek op die populêre sosiale media platform TikTok waar sy “sommer net liedjies gesing het”. Hy was onmiddelik beïndruk. “Toe skryf [Murray] vir my op Facebook. Toe moes ek besluit. Ek het dit oorweeg om te begin spraak terapie studeer, maar ek gaan eers sien hoe besig ek is met Reën. Ek raak nou 21 op ons eerste show!”

Dis heel waarskynlik die eerste en die laaste keer wat mens hulle al drie in dieselfde kamer gaan hê, maar almal is kalm en bedagsaam en daar is nie eens ’n leidraad van ongemaklikheid nie. Op die vraag hoe René voel oor Nolene antwoord sy spontaan: “Nolene is lovely. Ons het lekker gesels. Ek weet sy gaan ’n super sukses daarvan maak, en ek is baie opgewonde om te sien wat sy doen!”

Die man in die middel, Boer Richann is net so bedagsaam: “Ek verstaan René se besluit. Daar is nie regtig ’n besluit nie! As iemand voel hulle lewe gaan in ’n rigting in dan moet hulle saam gaan. Ek is besig om te boer, maar vir my voel dit asof ek nie die geleentheid kan laat verby gaan nie. Dis vir my om ’n beter liedjie skrywer te word en nuwe mense te leer ken en myself te verbeter as ’n kunstenaar.” Richann is ’n regte egte boer met soos ’n plaas en skape en goed maar sy “situasie laat dit baie beter toe as René se situasie. My day job laat spasie vir ’n musiekloopbaan.”

Wanneer hy gevra word hoe hy voel oor al die dinge is hy beskeie: “Ek is dankbaar. Ek voel asof almal gelukkig is. Dit voel asof ek nog ’n kans kry tot my musiekdrome met Nolene en ek is dankbaar daarvoor en ons is opgewonde!”

Nou ja, as almal net so volwasse kan optree sal die wêreld ’n beter plek wees.

Op en op!

PackShot_Media

EK KAN NIE WAG NIE

REËN

Vir Meer Inligting:

[email protected]

© 2022  SELECT MUSIEK | ‘N AFDELING VAN SONY MUSIC ENTERAINMENT (PTY) LTD. ALLE REGTE VOORBEHOU.

SiteFooter