LIEZEL PIETERS IS TERUG EN WEET WAAR SY HOORT

Liezel Pieters is terug, soos wat jy haar nog nooit gehoor het nie! As een van die mees gesoute Afrikaanse vroulike kunstenaars, het Liezel nie verdere bekendstelling nodig nie. Haar loopbaan, wat vir meer as ‘n dekade strek, het al gesorg vir talle gehore se pure luistergenot. Van haar treffers sluit ‘Asemloos’ en ‘Miljoene Druppels’ in, gevolg deur haar debuut album, ‘Sing my Hart uit’.  

Boerboel Wear, is nie net bekend vir hulle skerp humorsin en bekende Khaki klerereeks nie, maar ook vir JAN JAN JAN, Suid-Afrika se eerste Afrikaanse, “Boere-Boyband”. In 2021 het dié groep, saam met Liezel Pieters, die trefferduet ‘Spyskaart’ bekendgestel.

Haar nuutste enkelsnit, ‘Waar Ek Hoort’, uit die pen van Stephan Hugo Botha, met musiek deur Machiel Roets, word weereens meesterlik deur haar vertolk. “Waar Ek Hoort is ‘n eerbewys aan Suid-Afrika se boere. Daar is slegs één vroulike kunstenaar in ons land wat hierdie besonderse lied kan interpreteer, en dit is Liezel met haar onberispelike talent en nederigheid! Ons wil ‘n opregte boodskap van erkenning aan ons boere uitstuur, want hulle welstand is ons almal se voorbehoud” – vertel Stephan Hugo Botha, mede-eienaar van die Boerboel Handelsmerk.

“Ons almal het ‘n behoefte om raakgesien te word. Dis nou belangriker as ooit om ons boere raak te sien wat verantwoordelik is vir voedselsekerheid, werkskepping en om die platteland se ekonomie, en in sommige gevalle, die infrastruktuur daar instand te hou. Boonop is ons almal afhanklik van die krag en nuwe hoop wat ons elke more van Bo ontvang vir die dag wat voorlê.” – voeg Sarichia Coetzer by, ook ‘n mede-eienaar van die Boerboel Wear handelsmerk.

Soos die eerste reël van ‘Waar Ek Hoort’ tereg lui, “Op hierdie grond, waarop ek staan, het baie al voor my gegaan.”, eggo weer dieselfde boodskap wat die handelsmerk met ‘Die RSA is in my DNA’, deur Jan Jan Jan, wou tuisbring – Wees trots op jou herkoms en kultuur en bou doelgerig voort op daardie nalatenskap.

Die vervaardiging van die musiekvideo het boonop die geleendheid geskep vir Boerboel Wear, om nie net hande met Liezel Pieters te vat nie, maar ook met die gesogte Fendt-handelsmerk. Drie kragtige handelsmerke snoer musiek en skouspelagtige beelde saam om hierdie lied tot verdere hoogtes te neem. ‘Hierdie gaan ons mooiste musiekvideo nog ooit wees, daarvan is ek oortuig’, beaam Stephan.

Vandag word Fendt as ‘n premium handelsmerk onder boere wêreldwyd beskou en besit die grootste markaandeel in Europa. Fendt word sedert 2017 hier op eie bodem deur AGCO Africa versprei. ‘Toe die geleendheid homself voordoen vir Fendt om deel van ‘Waar Ek Hoort’ te word, het ons geensins gehuiwer nie. Dit gaan vir ons oor meer as net wat ons reeds vir die landbousektor bied, dit gaan vir ons oor die erkenning wat ons wil gee aan die boere, sonder wie ons nie ‘n voorbestaan sal geniet nie.’ – Robert Keir, Handelsmerk Bestuurder, Agco Africa.

‘Dit was vir my maklik om die musiek te toonset, juis omdat ek telkens sien hoe die Afrikaanse volk deur diep waters gaan en teen spyte daarvan keer op keer bly opstaan, bou en boer, soos wat ons al in die verlede ook moes doen.’, voeg Machiel Roets by.

Die verwerking en trefkrag van ‘Waar Ek Hoort’, was so indrukwekkend, dat Sony Select die besluit geneem het om die liedjie deel van die Krone 2023 speellys te maak.  Krone vind plaas by Loftus 2023, op Saterdag, 19 Augustus 2023. Dit beloof om die grootste, lekkerste en geselligste konsert tot op datum wees.

Vir Meer Inligting:

[email protected]

© 2022  SELECT MUSIEK | ‘N AFDELING VAN SONY MUSIC ENTERAINMENT (PTY) LTD. ALLE REGTE VOORBEHOU.

SiteFooter