Jan Jan Jan se nuuste album ‘Hokaai’ is eersdaags beskikbaar en soos altyd kan musiekliefhebbers uitsien na ’n opwindende nuwe klank wat die tradisie van Afrikaans met ‘n tikkie popmusiek verenig. Die eerste enkelsnit ‘Karolis’ (Die Sensasie Remix), is ’n heilsame sokkie-treffer en eerbewys aan Francois Hayes se 1991 treffer. Hierdie treffer volg kort op die hakke van verskeie ander Sensasie Remix-treffers wat hedendaags die dansvloere aan die brand hou.
Met ’n ryk mengsel van tradisionele Boeremusiek-instrumente soos die Konsertina en Kitaar, verweef met moderne popklanke, bring die album ook ‘n unieke en energieke nuwe aanslag na liedjies soos ‘Deur die Straights’, ‘Die Ou Plaas Dorp’, ‘Meisie Sonder Sokkies’ en ‘Silver de Lange’. Almal uitgesoek met die oogmerk op nostalgie van ouds, samesyn en die onmiskenbare ritme van Afrikaners.
Volgens Dulan Emsie, beter bekend as MooiJan, is hierdie album ’n viering van ons Afrikaanse musiekwortels met ’n vars, kontemporêre klank:
“Ons wou iets skep wat die hart van Boeremusiek vasvang, maar terselfdertyd ’n jonger gehoor aanspreek. Hokaai! Is vir almal – van die oupas en oumas wat groot geword het met Boeremusiek tot die jongmense wat iets nuuts en opgewek wil hê om op te dans.”
‘n Tikkie humor en energieke klanke word meesterlik saamgesmee in ‘Boerewors Prinses’. ‘n Nuwe oorspronklike snit uit die pen van Jan Jan Jan. LangJan beaam – “Ons sien uit hoe gehore gaan saamsing (en lag) wanneer ‘Boerewors Prinses’ begin speel.”
Hokaai! is nou op alle digitale platforms beskikbaar.