DEBUUT ALBUM VAN EKURHULENI ALT POP DUO

Sien jy dubbel? Wel, ja! Alter Ego bestaan uit Darren (links bo op die album omslag) en Justin (regs bo) Oates en hulle is ’n tweeling. Darren en Justin het al op hoërskool klavier stukke gekomponeer, maar was altyd te skaam om te sing.

“Eendag was ons ouers nie by die huis nie en ons het so half vir mekaar begin neurie en van daar af het ons selfvertroue op gebou.” Hulle hou van afrikaanse alternatiewe musiek nl. Spoegwolf, Francois Van Coke en Die Heuwels Fantasties en hulle het gevoel daai arena “kort ’n bietjie nuwe bloed.” Volgens Justin is Darren bietjie meer hardkoppig en pertinent. “Partykeer eindig dit in ’n crash”, skerts hy. “Justin is meer koel, kalm en bereken”, vertel Darren. “Ons vul mekaar nogal goed aan. Miskien ’n bietjie good cop/bad cop”, voeg hy by. “Ons hou van al ons liedjies, daar is ’n verskeidenheid van klanke op die album. Ons skryf ons eie musiek en ons hou van ’n heavy element.

Denholm help om ons idees te verwaar.” Gesoute musikant en skrywer Denholm Harding (Just Jinjer) behartig die vermenging en produksie op ‘Skree Net Sag’. “Die ouens het na my toe gekom met liedjies geskryf op ’n boksdrom en ’n klavier. Dit was groen weivelde. Hulle wou ’n internasionale klank gehad het”, bieg Denholm. ‘Was dit jou plan?’ is een van Denholm se gunsteling liedjies op die album. “Ek het gedink aan daai nostalgiese 80’s Aksiefilm temaliedjies wat ’n guilty pleasure vir my is.” “Hierdie jong outjies dra die vakkel van diep Afrikaanse lirieke en digkuns, maar in ’n Pop-musiek pakkie toe gedraai.” Behalwe vir die eerste twee enkelsnitte nl. die bittersoet ‘Verlore’ en die kragballade ‘Verniel my maar’ spog die album met ’n derde uitklophou, ‘Ek mis jou’.

Alter Ego kry dit reg om kenmerkende Afrikaanse-Pop klanke te vernuwe met edgy internasionale produksie standaarde en keuses wat herinner aan Billboard-treffers. Die album voel soos ’n oorwinning. ’n Pad vorentoe. Die lirieke getuig van wroeging en liefdestwiste. Die klank is enorm en gee die pas aan vir ’n hele nuwe generasie wat mondig geword het op beide Spoegwolf en The Weekend.

“Ons wil eerder iets doen wat eg is aan ons as om ’n kompromie aan te gaan om breë populariteit te verwerf vir iets wat ons nie is nie.”

Vrystellings

SKREE NET SAG

ALTER EGO

Vir Meer Inligting:

[email protected]

© 2022  SELECT MUSIEK | ‘N AFDELING VAN SONY MUSIC ENTERAINMENT (PTY) LTD. ALLE REGTE VOORBEHOU.

SiteFooter