Kyk, ons almal weet nou al dat wanneer Snotkop en sy vriende bymekaar kom, gaan daar geen vervelige oomblik wees nie. Dit gaan jy duidelik kan sien in die musiekvideo van sy nuwe enkelsnit “Pokkenvoes” wat nou beskikbaar is.
Nou gaan jy vra, wat is Pokkenvoes? Laat Snotkop jou verduidelik:
“’Pokkenvoes’ is daai troetelnaam wat jy jou beste-este pêl noem. Ja, jy. Komaan… Ek weet jy doen! Jy ken mos daai mal bestie wat julle altyd saam in die moeilikheid laat beland. Daai een wat jy altyd bel wanneer jy wil gaan jol of wanneer jy iets het wat op jou hart druk. Dit is nou hy. Jou tjom wat al jare die pad saam jou loop deur goeie tye en deur hel – jou wingman. Die een wat een uur in die oggend jou bakkie uit die modder sal kom help sleep. Wat jou sal hoop in praat wanneer jy voel die wêreld sluk jou in. Wat vir jou opstaan en baklei en jou dan spot oor jou dikgeid. Jou ‘Pokkenvoes’ for life. Uit my eie ondervinding weet ek dat niemand my beter verstaan as my betse pel nie. Daar is ‘n onbreekbare band. So maak seker jou pokkenvoes weet, hy of sy, is ‘n ‘Pokkenvoes’, maar steeds jou beste pêl”, deel Snotkop.
Die liedjie is natuurlik geskryf deur Snotkop self asook Dirk van Niekerk, wat ook dié liedjie vervaardig het en treffers soos “AVBOB Se Stoep” en “Souserig”.
So, wie is jou ‘Pokkenvoes’ en wat gaan julle hierdie naweek aanvang?