RETORIESE VRAE IN ALTER EGO SE SPLINTERNUWE ENKELSNIT

Dramatiese synthwave dryfkrag. Dit klink soos ’n Afrikaanse retro wetenskap-aksie film in ’n alternatiewe geskiedenis. Dis die ‘donker nag van die siel’-gedeelte waar die held in ’n motor wat laserstreep spore nalaat jaag om aan die heldin sy onvoorwaardelike liefde te bely. Ons kan nie oor die feit kom dat Alter Ego ook tydrenbestuurders is nie. Kom voel die tempo. Die dringendheid. Die vasberadenheid. Dis opwindend om hierdie tipe nuanse in Afrikaanse pop-musiek te hoor. As mens die geskiedenis kan herskryf kan ons die toekoms verander. – Opsomming van Was Dit Jou Plan? deur Hunter Kennedy.

Die tweelingbroers, Justin en Darren Oates, bekend as die sangduo Alter Ego, se splinternuwe enkelsnit én musiekvideo getiteld, Was Dit Jou Plan?, word uitgereik op 30 September 2002 en aanhangers sal beslis aanklank vind by dié pop-rock snit met elemente van elektroniese dansmusiek uit die tagtigs.

Was Dit Jou Plan? is deur Justin gepen kort nadat ’n verhouding op die rotse beland het.

“Ek het die liedjie begin skryf na ’n verhouding verbreek is en die lirieke vra die vraag of ’n mens mekaar ooit weer sal sien in hierdie lewe of in die volgende een, en of als nou verby is,” vertel Justin.

“Die liedjie is eintlik geskryf aan myself vanuit die meisie se perspektief. Ek het myself probeer indink watse emosies sy moes beleef het op daardie stadium. Dit was binne die eerste week nadat ons uitgemaak het, en dinge was nog baie rou en seer – van my kant af ook.”

Die koorgedeelte van Was Dit Jou Plan? vra die retoriese vrae ná die verbrokkeling van ‘n verhouding, wanneer ’n mens wonder of daar ooit regtig iets was en of jy net gebruik is om ’n gaping in iemand se lewe te vul, verduidelik Justin.

“Ek het definitief nie beplan om hierdie liedjie te skryf nie. Ek dink dit was ’n natuurlike manier vir myself om met my emosies te deel.”

Justin het die raamwerk vir die liedjie se lirieke en melodie geskryf, terwyl Darren die struktuur en afronding behartig het.

“Die liedjie is eintlik geskryf as ’n klavierballade, maar dit het in die ateljee verander. Denholm Harding, wat die liedjie vervaardig het, het die klank ontwikkel in ’n meer ritmiese snit. Die klank en produksie is jonk, lighartig en vol energie, wat altyd ’n kenmerk van ’n sterk enkelsnit is.”

Was Dit Jou Plan? is vars, met ’n dieper boodskap.

“Die liedjie filosofeer oor verhoudings en die moeilike vrae waardeur ’n mens moet gaan as dit nie uitgewerk het nie, met die gedagte wat wonder of ’n mens ooit ’n kans sal kry om vrede te maak of dinge uit te kan praat.”

Elektroniese dansmusiek uit die tagtigs is ’n genre wat internasionaal baie gewild word en dit is vir Alter Ego belangrik om Afrikaanse musiek te belyn met internationale tendense.

Die duo glo daar is ’n Afrikaanse musiekmark wat hou van jong, alternatiewe pop-rock met diep, skoon lirieke.

“Ons hoop en glo dat die publiek, wat oor die algemeen ook na internasionale musiek luister, die liedjie as iets vars vir die Afrikaanse mark sal beleef – iets met diepte in die lirieke, maar steeds met passie en energie wat jou kan inspireer.

“Ons wil emosies in ons luisteraars wakker maak wat hulle laat jonk en lewendig voel. Ek wil ook met ons musiek graag ’n positiewe kultuurverskil vir Afrikaans maak, sodat mense geïnspireerd deur en trots op hulle taal voel,” sê Darren.

Die musiekvideo vir Was Dit Jou Plan? simboliseer die vrae wat onbeantwoord gelaat word wanneer ’n verhouding eindig.

Die feit dat die broers ’n tweeling is, word duidelik uitgebeeld. Justin is geklee in swart om die moeilikhede in ons lewe op aarde en die frustrasie voor te stel. Darren is geklee in wit om dieselfde persoon in die hiernamaals voor te stel wat na homself kyk in die hede.

“In kontras met hoe ’n mens normaalweg ingestel is, word die lewe dié keer met swart voorgestel en die dood met wit. Dié kontras spreek ook ons definisie van die lewe en dood en ons uitkyk daarop aan.”

Ter wille van die beligting is die video hoofsaaklik oor ’n tydperk van ses aande by ’n huis in Irene, Pretoria, geskiet, waar die een kamer rondgeskuif en herbelig is om verskillende stelle te bou.

Die skoot van die televisie wat brand is geneem op die grasperk buite dieselfde huis, waar ‘n gordyn aan ‘n raam gehang is sodat dit steeds lyk of die televisie binnemuurs is. Die video is deur Jaen Kleynhans en Jan du Plessis vervaardig. Amy-Lee Groen tree as danseres op in die video.

AE2Media

WAS DIT JOU PLAN

ALTER EGO

Vir Meer Inligting:

[email protected]

© 2022  SELECT MUSIEK | ‘N AFDELING VAN SONY MUSIC ENTERAINMENT (PTY) LTD. ALLE REGTE VOORBEHOU.

SiteFooter