WEES BRAAF SAAM MET JAN JAN JAN, BOERBOEL WEAR EN SOLIDARITEIT HELPENDE HAND

Boerboel Wear se humoristiese reklame, stuitige tannies, aanskoulike modelle en Jan Jan Jan, Suid-Afrika se eie ‘Boere Boyband’, vermaak die publiek al vir ‘n paar jaar. Met groot opgewondenheid kondig Boerboel Wear ‘n nuwe projek, tesame met Solidariteit Helpende Hand en Lekker Luister aan. Hierdie projek, wat die “Braaf Projek” heet, sluit ‘n heldhaftige karakter vir kinders in!

‘Braaf die Boerboel’, ontwikkel deur Boerboel Wear, sal met skouermantel en avontuurlustigheid ekstra betekenis aan Solidariteit Helpende Hand se ‘Tassie-Projek’ toevoeg. Daarmee saam sal ‘n gedeelte van die verdienste wat Boerboel Wear uit die ‘Braaf’ t-hemde se verkope genereer, aan Helpende Hand se ‘Skooltassie-Projek’ geskenk word. So word kinders se harte opgebeur en hul welstand tasbaar verbeter. “Die RSA is in my DNA” wat in 2021 deur Jan Jan Jan uitgereik is, het in ‘n kort tyd reeds ‘n kultuurskat geword en in samewerking met Boerboel Wear en Solidariteit Helpende Hand, al ‘n daadwerklike verskil en bydrae gelewer tot ons die fisiese welstand van ons behoeftige Afrikaners.

Jan Jan Jan skop 2023 af met die vrystelling van ‘Braaf soos ‘n Boerboel’ – ‘n splinternuwe enkelsnit met die fokus om bewusmaking rondom Helpende Hand se ‘Skooltassie-Projek’ te skep. Met hierdie vrolike dansnommer, dra Jan Jan Jan die boodskap uit dat elkeen van ons ‘n ‘Dapper Jan’ het wat binne ons skuil, ons moet net soek, ‘hy sal daarbinne wees’… Dapper Jan is ‘n man (of aster as jy wil) wat altyd daar is om sy vriend te help – deur lief en leed!

Jan Jan Jan se kenmerkende boeremusiekelemente, maak die keer plek vir kontemporêre klanke en ‘n aansteeklike ritme wat die voete sal laat juk en die litte sal losmaak! Vir die eerste keer word ‘n kinderkoor ook ingespan saam met die Janne wat jonk en oud sommer weer sal laat ‘gees vang’ soos die dae op die skoolpaviljoen.

Tesame met die betrokke enkelsnit, sal Lekker Luister die inspirerende storie van “Braaf” vertel, sowel as die oorsprong van sy naam openbaar maak. Lekker Luister is die konsep van twee mammas, Christelle Webb Joubert (radiopersoonlikheid, RSG) en Juanita de Villiers (aktrise, Getroud met rugby) wat die geleentheid aangegryp het om ‘n tasbare platform te skep wat kinders in staat stel om die wonderwêreld van stories in ons moedertaal te ontdek.

Die primêre oogmerk van die Braaf Projek is om vir kinders te leer dat dit nie net belangrik, maar noodsaaklik is om BRAAF te wees! Dis boonop ook braaf om te kan erken dat jy soms onseker en broos is, ons almal beleef sulke kwesbare oomblikke.

Bowenal verg dit egter dapperheid om iemand, wat minder bevoorreg is, te help. Soos in Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand se eie woorde: “Jy is braaf as jy help, jy is braaf as jy gee. Dit is ons almal se plig om ‘n gesindheid van welwillendheid by ons kinders te kweek.” Met elke vol toegeruste tassie wat die ‘Braaf’ projek moontlik gemaak word, help dit ‘n kind om braaf en vol selfvertroue Graad 1 aan te durf.

Boerboel Wear se jong ondersteuners kan boonop uitsien om Braaf die Boerboel en Helpende Hand se Piet Tande, die Tandemuis, in 2023 te ontmoet. Die twee ysters sal in 2023 op ‘n kosblikkie en tassie veldtog deur 14 streke toer om bewusmaking te skep oor hoe ‘braaf-wees’ ‘n gesonde gees kan kweek.

Vir Meer Inligting:

[email protected]

© 2022  SELECT MUSIEK | ‘N AFDELING VAN SONY MUSIC ENTERAINMENT (PTY) LTD. ALLE REGTE VOORBEHOU.

SiteFooter